Reply to comment

Terugvoer van Botswana Junie 2009

Die mens is ‘n vreemde ding… Met ‘n eerste terugblik oor die uitreik was ek stom geslaan. Hoe is dit moontlik dat daar geen stories is om te vertel nie?!?! Maar in werklikheid was die stories net in ‘n ander kleur as gewoonlik.
Dit was ‘n ongelooflike missie gewees om ‘n span mense by mekaar te kry vir die Botswana uitreik. Die belangstelling was min, en baie het reeds ander planne gehad, of moes weens omstandighede onttrek. Tog, het die Liewe Vader ‘n groepie van 13 mense saam gevoeg. Wat ‘n ongelooflike ervaring!
Met die vertrek het het alles klop disselboom verloop, en ons was net so na ses by Zeerust, waar ons toe ‘n eerste koffietjie moes drink. Die grens was binne oomblikke verby, maar die FS voertuig was weereens onder verdenking… Die la-a-ang draai tussen Jwaneng en die Kokong afdraai was nog nooit so lank nie, maar dit was net so voor twaalf toe ons in Inalegolo afklim…En dit was ‘n eerste vir my!! Die grawe het maar stadig gegaan, want die manne was maar in die minderheid, maar die kamp was opgeslaan voor die son sy oë toe gemaak het. Die eerste ongemaklikheid het egter sy kop reeds uitgesteek. Water was M.I.A.! Dus is ons toe teen die spoed van wit lig deur Phuduhudu toe, om water vir die span in die hande te kry. Dit het egter ook een ander ding beteken… Bad is uit soos koekies in die weeshuis.
Daarna was dit Moruti Johannes se bakkie wat gelol het, en hy moes ons ongelukkig verlaat, maar dit het ons met een tolk gelaat. KOPSEER!! Nou moet ons kreatief wees, en dit wat gewoonlik met drie mense gedoen word met een doen… En WOW!! Hutte besoek in die oggend, Kinders en volwasse Kerk in die middag. Ithumeleng het sy tong stomp gepraat, maar ons kon alles inpas!
Maar die mense… Wat ‘n wonderlike groep was dit nie… Elkeen het ‘n afspraak met God gehad, en elkeen het syne na gekom. Die stories rondom die kampvuur het my elke aand geraak. Om te hoor wat die een in die kinders vandag raak gesien het. Dit gaan my verstand steeds te bowe hoe mens met die doel gaan om te bedien, te vertel en te leer. Maar waneer jy terug kyk, dan was jy bedien, het jy geluister, en moes jy leer. Die mense in Inalegolo het my ongelooflik baie geduld, aanvaarding, onselfsugtige en absolute liefde geleer. Ja, baie keer is dit onmoontlik om liefde of selfs dankbaarheid te sien in die papgooi rondom die kerkie, of in die hardhandige speletjies voor die diens, of in die skel, en kyk wanneer ‘n skeppie dalk so ‘n rapsie klein is. Maar dit is JUIS in daardie skel kyk wat ek myself sien, juis met daardie klipgooi wat ek besef hoe ek soveel keer optree. En tog is dit juis in daardie stukkies wat God kom en jou wys hoe lief Hy JOU het. Juis in daardie verwytende oe wat Hy se selfs dan, selfs dan het ek jou sonder ophou lief. En dan gee Hy die opdrag om ook so lief te he. Dit is dan wanneer oe oop gaan, en wanneer ek besef wat ek eintlik kan uitdeel.
Dit verstom my as ek terug dink aan ons afsluit aand. Waar ons net ‘n koppie koffie gaan drink het, op die koppie, terwyl ons na die sons ondergang staan en kyk. Skip het ons begelei op die jembe, en ons het gesing. En gesing… Sonder ophou, ons het gesing met die terug ry, gesing om die vuur terwyl die kos gemaak is, gesing nadat ons geeet het. Dit was regtig nie die beste begeleiding nie, en die sangers was maar taamlik vals, maar dit was genuine. Dit was eg.
Daar is vyf kolletjies langs my naam. - Elkeen het ‘n stukkie aan my geskaaf. Elkeen het my ietsie nuut van myself geleer. Elkeen het ‘n storie by my lewe bygevoeg, elkeen sy eie kleur. Elkeen het bygedra tot die volheid, tot die grootheid wat ek van God kon ervaar, maar dit het ook bygedra tot die leemte. Die leemte gelaat deur die besef van laaste. Einde…Klaar… Ons is drie, drie wie daardie plekkie vir ‘n laaste keer moes groet. Drie wat skaamteloos, nie anders kon nie, as om te huil langs die kampvuur. Die groet was ‘n seer seer!
Dit was ‘n groot genade om te kon deel wees van Inalegolo. Dit is vir my ‘n ongelooflike genade om te kan se dat niks skeef geloop het nie, en dit is ‘n ongelooflike genade om hierdie getuienis te mag skryf. Ek, tesame met die Botswana uitreik span van Junie 2009 is Melville Kruis gemeente ongelooflik dankbaar vir die onophoudelike ondersteuning! Daar sonder sou ons geen sulke geleenthede kon he nie. Dankie. Dankie vir hierdie ongelooflike geleenthede!!

Bastiaan Koster

Reply

  • Web page addresses and e-mail addresses turn into links automatically.
  • Allowed HTML tags: <a> <em> <strong> <cite> <code> <ul> <ol> <li> <dl> <dt> <dd>
  • Lines and paragraphs break automatically.

More information about formatting options